Pablo Software Solutions
Copyright © . All rights reserved.
This website was powered by Ewisoft Website Builder.
Die Belydenis van Athanasius :Website Builder
1. Die Belydenis van Athanasius :2. Die Geloofsbelydenis genoem na Atanasius :3. Neergedaal het na die hel :4. Nuwejaarsfeesviering :5. 'Afgeslote' lys van heilige boeke
3. Neergedaal het na die hel

RAPPORT DEPUTATE BELYDENISSKRIFTE (Artt.62, 215, 241)

Ds. P.H. Fick stel die Rapport.

Besluit: Die Rapport word verwys na die Kommissie Leerstellig 4.

Ds. F.J. van Deventer stel die Kommissierapport.

RAPPORT

1. Opdrag

Acta 1997:574.

"1. Om die woorde ‘neergedaal het na die hel’ soos dit in die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Geloofsbelydenis van Atanasius voorkom, volledig te ondersoek en die volgende Sinode te adviseer oor ’n moontlike herbewoording of hervertaling.

2. Om ondersoek in te stel na die moontlikheid van ’n duideliker plasing van die woorde.

3. Om ondersoek in te stel na alle implikasies wat sodanige moontlike hervertaling of herbewoording en/of herplasing mag hê en die volgende Sinode daaroor te adviseer.

4. Skakel met kerke met wie ons in korrespondensie is deur die DKBK en met binnelandse kerke van dieselfde Belydenis deur Deputate Ekumeniese Sake."

Besluit: Kennis geneem.

2. Dogmahistoriese agtergrond

2.1 Die vroeë kerk

Die woorde "descendit in inferna" kom vir die eerste keer voor in die Acta van die Ekumeniese Sinode van Sirmium (359) en die Konsilie van Nicea in Thracië (359). Ongeveer 30 jaar later, in 390, het Rufinus, ’n priester van Aquilea, dit opgeneem in sy Expositio Symboli Apostolici. In sy kommentaar op hierdie artikel sê Rufinus uitdruklik dat hierdie frase nie in enige belydenis van die Rooms-Katolieke Kerk of die kerk in die Ooste voorkom nie. Hy meld egter nie waarom hy dit nodig vind om dit hier en op hierdie tydstip in te voeg nie.

Wat sy bedoeling daarmee was, is egter van uiterste belang. ’n Aanduiding in hierdie rigting is die feit dat hy die artikel "sepultus" (begrawe is) uitlaat en met "descendit in inferna" vervang. Hy doen dit blykbaar dan nie om ’n nuwe dogma in te bring nie, maar om die bestaande te verduidelik. "Sepultus" en "ascendit in inferna" word klaarblyklik as sinonieme beskou. Die werklikheid van Christus se dood word met hierdie frase beklemtoon en sluit eenvoudig aan by die eeue-oue idee wat by die Jode en Christene geheers het oor die toestand van die gees na die dood. Die vroeë kerk het die neerdaal van Christus eenvoudig verstaan as deel van die verlossingsplan van God en as oorgang van die staat van vernedering na die staat van verheerliking van Christus.

Waarom Rufinus dit egter nodig gevind het om hierdie frase op daardie stadium in te voeg, mag daarop dui dat daar reeds iewers in die kerk van daardie tyd ’n dogmatiese verskuiwing begin plaasvind het wat so ’n invoeging vereis het.

2.2 Middeleeuse wending

Hierdie sluimerende dogmatiese wending in die verstaan van die frase kom in die patristiese tyd en Middeleeue al hoe meer na die oppervlak.

Teen die jaar 750 is die teks van die Apostolicum finaal vasgestel en die frase "descendit in inferna" het finaal sy plek naas "sepultum" gekry.

Veral onder die invloed van die kerkvaders Origines en Clemens Aleksandrinus is ’n meer uitgebreide prentjie geskilder oor wat Christus gedurende die drie dae tussen sy dood en opstanding sou gedoen het. Dit het gepaard gegaan met ’n tendens om skerper te onderskei tussen sheol/hades (die doderyk of tydelike verblyfplek van alle gestorwenes – regverdiges en goddeloses) en hemel en gehenna (die hel of plek van ewige verdoemenis).

Dit het uiteindelik daartoe gelei dat die geloof dat Christus gesterf en Hom daarom in die verblyfplek van die dooies bevind het, vervang is met die geloof dat Christus die hel (die plek van ewige verdoemenis) besoek het en daar in ’n oorlog die oorwinning behaal het oor die Satan en die dood. Dit word in kleurryke taal in verskeie apokriewe boeke beskryf, soos onder andere in die Evangelie van Nikodemus (hoofstt. 13-21).

Daar was dus ’n groeiende tendens om die "neerdaal" onafhanklik te beskou van die sentrale leer van die dood en opstanding van Christus en "sheol/doderyk" te vervang met "gehenna/hel".

2.3 Reformatoriese herinterpretasie

In die tyd van die Reformasie was daar talle leerstellige skermutselings rondom die interpretasie van hierdie artikel. Tussen 1580 en 1720 was daar nie minder nie as 34 Lutherse, 16 Gereformeerde en 4 Rooms-Katolieke spesiale ondersoeke hieroor (Wentsel:224).

Bucer interpreteer bv. in 1536 hierdie artikel histories en beskou Christus se grafstelling sinonimies met die neerdaling. Die meeste reformatore het egter die frase "descendit in inferna" nie simboolhistories nie, maar dogmaties geïnterpreteer.

Luther betrek die neerdaling op Jesus se lyding in Getsemane en Golgota; Calvyn neem dit van hom oor. In sy Institusie (2.16.8) handel Calvyn uitvoerig daaroor. Hy erken dat hierdie artikel eers later ingevoeg is, dat sommige kerkvaders elkeen sy eie vertolking daaraan gegee het en dat ander (soos Augustinus) dit heeltemal weggelaat het, maar beskou die historiese aspekte van die ontstaan en interpretasie daarvan van geen belang nie.

Hy verkies steeds "hel" as vertaling van "inferna" en verklaar hierdie artikel as Christus se hellesmart aan die kruis. Immers (redeneer hy), niks sou volbring gewees het nie as Christus net slegs die liggaamlike dood gesterf het. Hy moes ook die strengheid van die Goddelike wraak voel en daarom as ‘t ware ook met die leërskare van die hel en die verskrikking van die ewige dood handgemeen raak. In die neerdaal het Christus hierdie dood gedra. Nie alleen is sy liggaam oorgelewer tot ’n prys vir ons verlossing nie, maar ook in sy siel het Hy die vreeslike kwellinge van ’n verlore mens gedra. Hy was nie net gewikkel in die dood nie, maar ook in die smarte wat voortkom uit die vloek en die toorn van God, en as die vreeslike dieptepunt noem Calvyn die verlating aan die kruis. Hierdie verklaring het sy neerslag gevind in die Heidelbergse Kategismus, 16:44.

Calvyn wou met hierdie verklaring die artikel as ‘t ware ontmitologiseer, maar het daarmee afgewyk van die oorspronklike bedoeling van hierdie uitdrukking. In die gees van die Reformasie wou hy nie torring aan ’n belydenis wat vir eeue as vasstaan nie.

Die Lutherse Kerk bely (grootliks in teenstelling met Luther se eie siening) in die Formula Concordiae van 1577 (art. 9) dat Christus na sy hele persoon, as God en mens, in die hel afgedaal het om die mag van Satan te verbreek.

Die neerdaal na die hel word in die Konfessie en Groot Kategismus van Westminster nog anders opgevat: hierdie vernedering het nie voor nie, maar na sy dood plaasgevind. Hy is begrawe en verkeer tot die derde dag in die staat van die dooies en in die mag van die dood.

2.4 Enkele interpretasies van die 19e en 20e eeu

Bavinck verwerp die opvatting dat Christus in die hel die Evangelie gepreek het aan almal wat dit hier op aarde nie gehoor het nie. Hy ag ’n verklaring (dat dit in die neerdaling gaan om die staat van die dood waarin Christus verkeer het tussen sy sterwe en opstanding om die straf te dra en ons daarvan te verlos) die meeste in ooreenstemming is met verwante uitdrukkings in die Skrif, die waarskynlike oorsprong en sin van die woorde en met die plek wat hierdie woorde tussen die ander artikels het.

J. Moltman is van mening dat daar iets waars is in die interpretasie van die deurstaan van die helse pyn en in dié van die triomf van Christus oor die hel.

H. Berkhof ag die interpretasie van Christus se solidariteit met ons, sy oorwinning en van universaliteit juis, maar wys dié van Godverlatenheid af.

Berkouwer ag die interpretasie van die neerdaling as helse verlatenheid wellig as histories onseker, maar nietemin in ooreenstemming met die Skrif.

M.H. Bolkestein gaan ’n ander rigting op en sê dat Christus se heerskappy nêrens op grense stuit nie. Daar is geen domein op of onder hierdie aarde waar Hy nie regeer nie. Selfs daar, waar geen mens mag kan uitoefen nie – in die doderyk – het Hy mag.

In 1975 verdedig die Lutherse Kerk sy siening deur te verklaar dat die dooies wat geen kans gehad het om Jesus persoonlik te ontmoet of sy boodskap te hoor nie, nog ’n geleentheid kry om Hom te ontmoet en hulle te bekeer. 1 Petrus 3:18 en verder en 4:6 is vir hulle die loci classici vir hierdie siening.

2.5 Hantering van die probleem deur verskillende Gereformeerde Kerke

In die Engelssprekende wêreld is daar in 1969 die sogenaamde Commission on English Texts (ICET) deur die hoofstroomkerke gestig om ’n gemeenskaplike bewoording van kerklike dokumente daar te stel. In 1970 het die ICET ’n aantal "ooreengekome tekste" gepubliseer waaronder die Apostolicum was. Die woorde "he descended into hell" is vervang met "he descended to the dead".

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk het in Oktober 1986 besluit om die vertaling "neergedaal het na die hel" weer te verander na "ter helle neergedaal" – ten einde die eintlike betekenis daarvan beter uit te druk in ooreenstemming met die historiese en Skriftuurlike gegewens.

Die Presbyterian Church in Korea het hierdie woorde reeds in ’n vroeë stadium uit die Apostolicum weggelaat uit vrees dat dit misverstaan kan word as sou dit verwys na die leer van die vagevuur van die Rooms-Katolieke Kerk.

Die Rooms-Katolieke Kerk en die Protestantse Kerke in Duitsland het hierdie artikel ook intussen verander na "neergedaal na die doderyk".

Die Sinode van die Reformed Churches of Australia het ook by sy Sinode van 1994 ’n Beswaarskrif in hierdie verband ter tafel geneem. Die saak is na Studiedeputate verwys wat sy Rapport by die Sinode van 1997 gelewer het. Die Sinode het die probleem rondom die verstaan van die betrokke artikel ingesien, maar wou nie die Belydenis eensydig verander nie. Die Sinode het uiteindelik besluit om die descensus te behou, maar om die volgende voetnoot by te voeg: "by this we understand that Christ suffered the Godforsaken agony of hell on the cross". Die Sinode het ook verder besluit om die 1994-beswaar, die Rapport van 1997 en die besluite van 1997 aan die Reformed Ecumenical Council te stuur vir oorweging by sy sitting van 2000.

Die Reformed Churches of New Zealand het insgelyks ook die saak bestudeer en vier moontlikhede ondersoek om die verstaansprobleem op te los. Uiteindelik is ook gekies vir ’n nota by die betrokke reël.

In die familie van die Baptiste en Presbiteriaanse Kerke in die VSA is die neiging al hoe meer om die descensus eenvoudig weg te laat.

2.6 Die GKSA

Op die Nasionale Sinode van 1964 dien ’n Beswaarskrif oor die woorde "en neergedaal het na die hel …" soos dit voorkom in die Apostoliese Geloofsbelydenis en Geloofsbelydenis van Atanasius. Op aanbeveling van ’n Kommissie is hierdie Beswaar nie gehandhaaf nie. Op die Nasionale Sinode van 1997 dien ’n Beswaarskrif van die Partikuliere Sinode Wes-Transvaal teen bogenoemde besluit en wel op die volgende twee gronde:

Die Sinode (1964) erken dat die woorde "en neergedaal het na die hel" maklik misverstaan kan word, maar los die probleem nie bevredigend op nie.

Die misverstand wat by baie lidmate bestaan oor die woorde "en neergedaal het na die hel", is Skriftuurlik en dogmaties onhoudbaar en moet daarom voorkom word.

Die Partikuliere Sinode Noord-Transvaal het op sy vergadering van 25 November 1997 besluit dat ’n hervertaling die aangewese manier is om die probleem op te los.

Besluit: Kennis geneem.

3. Skriftuurlike getuienis

3.1 Skrifgetuienis wat ’n neerdaling na die hel oënskynlik ondersteun

Moontlike ondersteuning vir die gedagte dat Christus na die hel neergedaal het, kan hoofsaaklik in vyf gedeeltes in die Skrif gevind word: Hand 2:27; Rom 10:6-7; Ef 4:8-9; 1 Pet 3:18-20 en 1 Pet 4:6.

3.1.1 Handelinge 2:27

Hierdie vers vorm deel van Petrus se preek op Pinksterdag. Hy haal Ps 16:10 aan. In die 1953-vertaling lui dit: "Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige Gees oorgee om verderwing te sien nie". Ook in die 1983-vertaling word die Griekse woord "hades" (Hebreeuse "sheool") met "doderyk" weergegee. Daar is vertalings, soos die KJV, wat dit hier met "hel" vertaal het. Beide die oorspronklike woorde kan eenvoudig "die graf" of "dood" (die toestand van dood-wees) beteken. In hierdie konteks word dit beklemtoon dat Christus se liggaam uit die graf opgestaan het in teenstelling met Dawid se liggaam wat in die graf gebly het. Petrus gebruik hierdie Psalm van Dawid om aan te toon dat Christus se liggaam nie vergaan het nie. Hierin verskil Hy totaal van Dawid wat gesterf het, begrawe is en wie se graf "by ons tot vandag toe" is.

Hierdie gedeelte oor Christus se opstanding uit die graf lewer geen oortuigende grond vir die idee dat Christus na die hel neergedaal het nie.

3.1.2 Romeine 10:6-7

In hierdie verse kom weer ’n aanhaling uit die Ou Testament (Deut 30:13) voor. Paulus vra twee retoriese vrae: "Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring?" (1953). Die Griekse woord "abyssos" wat hier met "afgrond" en in die 1983-vertaling met "onderaardse diepte" vertaal is, is in die Septuaginta gebruik om te verwys na die dieptes van die see (Gen 1:2; 7:11; 8:2; Deut 8:7, ens.) maar kan waarskynlik bloot verwys na die doderyk soos in Ps 71:20. Paulus gebruik dit hier as teenstelling vir "hemel" om te dui op ’n onbereikbare plek vir die mens. Die kontras is nie "Wie sal gaan om Christus te vind in ’n plek van saligheid (die hemel) of ’n plek van straf (die hel)?" nie, maar "Wie sal gaan om Christus te vind in ’n plek van onbereikbare hoogte (hemel) of in ’n plek wat onbereikbaar diep is (die plek van die dooies)?".

Geen saak kan uit hierdie gedeelte uitgemaak word vir Christus se sogenaamde neerdaal na die hel nie.

3.1.3 Efesiërs 4:8-9

Paulus skryf hier: "Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee. Maar dit: Hy het opgevaar – wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste deel van die aarde?" (1953). Die 1983-vertaling veronderstel dat die laaste gedeelte van vers 9 verwys na Christus se vleeswording; daarom word dit vertaal met: "neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe". Die laaste woorde van vers 9 "onderste dele van die aarde" bevat ’n epeksegetiese genitief wat beteken: "onderste dele, naamlik die aarde". Dit is verkieslik in hierdie konteks, want Paulus sê dat Christus wat na die hemel gegaan het (hemelvaart), is dieselfde Een wat vroeër van die hemel gekom het (vleeswording).

Hierdie gedeelte gaan dus oor Christus se vleeswording, nie oor ’n neerdaal na die hel nie.

3.1.4 1 Petrus 3:18-20

Hierdie teks het al die meeste probleme opgelewer. Petrus sê dat Christus "gedood is na die vlees; maar lewend gemaak is na die Gees; in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God eenmaal gewag het in die dae van Noag" (1953). Sommige verstaan die uitdrukking "dat Hy vir die geeste in die gevangenis gepreek het" (soos die 1983-vertaling dit ook het) so dat Christus in die hel gegaan en vir die geeste wat daar is, gepreek het. Sy preek het dan die evangelie behels wat vir hierdie geeste van ongelowiges in Noag se tyd ’n tweede geleentheid tot bekering sou bied, of ’n aankondiging van sy oorwinning oor hulle en hulle ewige verdoemenis. Hierdie interpretasie ignoreer egter nie slegs die konteks waarin dit voorkom nie, maar lewer ernstige dogmatiese probleme op. Die Bybel spreek nêrens van ’n geleentheid tot bekering na die dood nie. Voorts gee die Bybel ook nêrens die idee dat gelowiges in die Ou Testament onmiddellike heerlikheid na die dood weerhou is nie. Verskeie plekke dui inderwaarheid daarop dat Ou-Testamentiese gelowiges onmiddellik na hulle dood in God se heerlike teenwoordigheid gekom het omdat hulle sondes deur geloof in die komende Messias vergewe is (Gen 5:24; 2 Sam 12:23; Ps 16:11; 17:15; 23:6; Pred 12:7; Matt 22:31-32; Luk 16:22; Rom 4:1-8 en Heb 11:5).

Die beste verklaring van hierdie teks is eeue gelede al deur Augustinus gegee: Dit verwys nie na gebeure tussen die dood en opstanding van Christus nie, maar na dit wat Hy deur sy Gees in die tyd van Noag gedoen het. Toe Noag die ark gebou het, het Christus "in die Gees" deur Noag tot die ongelowiges rondom hom gespreek. Hierdie interpretasie word grootliks gesteun deur wat Petrus in 1 Pet 1:11 sê, naamlik dat die Gees van Christus deur die profete van die Ou Testament gespreek het. Daarbenewens noem hy Noag in 2 Pet 2:5 "die prediker van geregtigheid". Hierdie mense tot wie Christus gepreek het, was ongelowiges in die tyd van Noag; maar Petrus noem hulle "geeste in die gevangenis" omdat hulle nou in die gevangenis van die hel is, hoewel hulle nie geeste is nie, maar persone op aarde was toe die prediking plaasgevind het.

Ook hierdie teks onderskryf nie die gedagte dat Christus na sy dood na die hel neergedaal het nie.

3.1.5 1 Petrus 4:6

Hierdie teks lui: "Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees" (1953). As hierdie teks sou leer dat Christus na die hel neergedaal het, beteken dit dat dit ook leer dat daar na die dood ’n "tweede geleentheid" vir bekering is – in stryd met bv. Luk 16:19-31 en Heb 9:27. Hierdie teks sê nie eksplisiet dat die evangelie verkondig is aan mense na hulle dood nie. Dat dit eerder beteken dat dit gedoen is terwyl hulle geleef het, word bevestig deur die feit dat die tweede woord "daarom" terugverwys na die eindoordeel wat teen die einde van vers 5 genoem word. Dit is bedoel as ’n trooswoord aan hulle wat oor hulle medegelowiges wat reeds gesterf het, bekommerd is. Hulle wonder dalk of die evangelie enigsins vir hulle tot nuut was, aangesien dit hulle nie van die dood gered het nie. Petrus sê dat die evangelie nie aan hulle verkondig is om hulle van die fisiese dood te red nie, maar om hulle te red van die eindoordeel. Die feit dat hulle gesterf het, is nie ’n aanduiding dat die evangelie in sy doel misluk het nie. Die "dode" is dus mense wat gesterf het en nou dood is, hoewel hulle op die aarde geleef het toe die evangelie aan hulle verkondig is. Die 1983-vertaling gee dit daarom so weer: "Daarom is die evangelie ook verkondig aan die wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God lewe".

Dit beteken dat ook hierdie teks geen oortuigende ondersteuning bied vir die gedagte dat Christus na sy dood na die hel neergedaal het.

3.2 Skrifgetuienis wat ’n neerdaling na die hel duidelik weerspreek

Benewens die feit dat daar weinig indien enige Skrifgrond vir ’n neerdaal na die hel deur Christus is, weerspreek twee van Christus se kruiswoorde die gedagte dat Hy na sy dood na die hel neergedaal het, totaal.

Jesus se woorde aan die kruis aan die rower "Vandag sal jy saam met my in die paradys wees" (Luk 23:43) impliseer dat, nadat Jesus gesterf het, sy gees dadelik die teenwoordigheid van sy Vader in die hemel sou betree, hoewel sy liggaam begrawe op die aarde sou agterbly.

Daarbenewens suggereer die uitroep van Jesus in Joh 19:30 "Dit is volbring", baie sterk dat Christus se lyding op daardie oomblik verby was, en daarmee saam ook sy vervreemding van sy Vader oor die feit dat Hy ons sonde gedra het. Dit impliseer dat Hy nie na die hel neergedaal het nie, maar dadelik na sy Vader gegaan het.

Uiteindelik as Jesus uitroep: "Vader, in U hande gee Ek my gees oor" (Luk 23:46), dan is dit duidelik dat Hy besef dat Hy nou gaan sterwe soos wat elke mens op aarde moet sterf. Ook hierdie deel van die straf op die sonde moet Hy nou tegemoet gaan.

Hierdie tekste wys daarop dat Christus in sy dood dieselfde beleef het as wat enige gelowige vandag nog ervaar wanneer hulle sterf: sy dooie liggaam het op die aarde gebly en is begrawe, maar sy gees het dadelik na die teenwoordigheid van die Vader in die hemel gegaan. Op die eerste dag van die week is Christus se gees en liggaam herenig en het Hy opgestaan uit die dood, net soos wat met die gelowiges by die wederkoms sal gebeur.

Vir ons as gelowiges is hierdie leer baie troosvoller as wat die leer van Christus se neerdaal na die hel ooit sou kon wees.

Besluit: Kennis geneem.

4. Gevolgtrekkings

4.1 Dit is duidelik dat vier moontlikhede oorweeg kan word:

Die woorde "neergedaal na die hel" kan onveranderd gelaat word

Die woorde kan vertaal word as "en Hom gevoeg by dié wat gesterf het"

Die woorde kan vertaal word as "neergedaal na die doderyk"

Die woorde kan verplaas word (tot voor "begrawe is")

Dit kan in sy geheel weggelaat word

4.2 Dit is uit die Skrifgegewens duidelik dat daar geen positiewe uitspraak is ten gunste van ’n neerdaling van Christus na die hel/gehenna nie.

4.3 Daar is duidelike Skrifuitsprake wat ’n neerdaling na die hel direk weerspreek.

4.4 Dogmahistories en logies geoordeel moet voorkeur gegee word aan die vertaling "neergedaal na die doderyk/hades" wat beteken dat Christus waarlik dood was. ’n Alternatief sou wees om die gedeelte uit die Apostoliese Geloofsbelydenis asook die Geloofsbelydenis van Atanasius weg te laat, gesien die laat toevoeging, die uiteenlopende vertolking en die moontlike misverstaan daarvan.

4.5 In beide bogenoemde gevalle (by 4.4) word aan die bewoording van twee ekumeniese simbole verander of iets weggelaat en word HK, 16:44 ook geraak.

4.6 Dit is uit praktiese ervaring duidelik dat die huidige bewoording talle verstaansprobleme oplewer en deur gelowiges dikwels misverstaan word, ondanks die duidelike verklaring daarvan in HK, 16:44.

Besluit: Kennis geneem.

5. Aanbevelings

5.1 Die Sinode besluit om die woorde descendit in inferna in die Apostolicum en Atanasium te vertaal met "neergedaal na die doderyk" of "en Hom gevoeg by die wat gesterf het"; alternatiewelik om dit weg te laat. Aangesien beide egter ekumeniese simbole is, word hierdie vertaling/weglating nie gedoen voordat ander kerke hieroor geraadpleeg is nie, beginnende by kerke met wie die GKSA in enger korrespondensie staan.

5.2 Die Sinode besluit om die HK, 16:44 onveranderd te laat maar van ’n verduidelikende voetnoot te voorsien. Die voetnoot kan soos volg lui:

"Hierdie woorde is ’n baie laat byvoeging (einde Vierde eeu tot middel Sewende eeu) tot die Apostoliese Geloofsbelydenis. Dit is aanvanklik ten regte so verstaan dat Christus na die doderyk/hades neergedaal het, wat ’n ander manier was om te sê dat Hy waarlik dood was. In die Middeleeue is dit egter letterlik verstaan, naamlik dat Christus na sy dood na die hel/gehenna neergedaal het om die regverdiges van die Ou Verbond te bevry. Calvyn het hierdie (onskriftuurlike) verklaring afgewys en die uitdrukking verstaan as die helse smarte en Godverlatenheid van Christus aan die kruis. Hierby sluit die HK, 16:44 aan."

Besluit: Die aanbevelings word terugverwys na die Kommissie om ‘n ander weergawe van die bedoeling van die betrokke belydenisfrase te formuleer in ooreenstemming met die HK, Sondag 16, vraag 44.

KOMMISSIERAPPORT

1. Opdrag

Om die Sinode te heradviseer oor die herbewoording van die frase "en neergedaal het na die hel" in lyn met HK, 16:44.

Besluit: Kennis geneem.

2. Bevinding

Die Kommissie wil die volgende by die bevindinge voeg.

2.1 4.4.3 : Die Kommissie het nog ander moontlike frases probeer vind in die plek van "en neergedaal het na die hel". Die volgende frase word ook in u midde gelê, nl.: en so helle-foltering op aarde gely het".

2.1.1 "Foltering" gee baie dieper die smart en geestespyn weer wat Christus gely het.

2.1.2 Met die byvoeging "op aarde" word duidelik gestel dat Christus die foltering deur sy lewe op aarde gely het.

Besluit: Kennis geneem.

3. Aanbeveling

3.1 Die frase in die Apostolicum "en neergedaal het na die hel" en ook die frase in Atanasius "na die hel neergedaal het", kan nie so behou word nie.

Besluit: Nie goedgekeur nie.

3.2 Die volgende bewoording word as interim reëling aanvaar: "en so helle-foltering op aarde gely het".

Besluit: Nie goedgekeur nie.

3.3 Dit word aan die vryheid van die kerke oorgelaat om hierdie veranderde frase te gebruik.

Besluit: Nie goedgekeur nie.

3.4 Die Deputate Leerstellige Sake ontvang opdrag om in die lig van die Studie- en Kommissierapport poog om in lyn met HK, 16:44 die volgende Sinode van ‘n gemotiveerde bewoording te bedien en ‘n studie te maak van die frase in Atanasius (pt.3.1) en die volgende Sinode daaroor te adviseer.

Besluit: Goedgekeur.

3.5 Die Studiedeputate, lê in samewerking met die Deputate Ekumenisiteit, bogenoemde besluit met sy relevante Rapporte, vgl. pt.5:1-2, vir kommentaar voor aan alle ter sake Gereformeerde kerke en adviseer die volgende Sinode hieroor.

Besluit: Goedgekeur.

http://www.gksa.co.za/sinode2000/1504.htm

 

Laaste keer geredigeer: 2005 / Geplaas: 31 Maart 2017